Page Corner Left Upper


Hoe kan 'n persoon weet of hy/sy wedergebore is?

Page Corner Right Upper

Wanneer 'n baba gebore word, sal die mediese praktisyn die baba ondersoek vir die 'vitale tekens' ("vital signs") om te bepaal of die baba lewe en gesond is of nie. So word Wedergeboorte bevestig deur die vitale tekens daarvan.

Die vitale tekens vir wedergeboorte sluit ondermeer die volgende in:
  • Jy sal bely dat Jesus Christus die Here is, en jy sal glo dat God Hom uit die dood opgewek het. "As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word." Rom.10: 9 (NAV)

  • Jy sal jou sonde en sondes aan God erken en bely; "Wie sy sondes wegsteek moet niks goed te wagte wees nie; wie sy sonde bely en daarvan afsien, sal genade ontvang." Spr. 28: 13-14 (NAV). Ons is onwillekeurige sondaars as gevolg van ons oor-erwings faktore, maar om dinge te vererger het elke mens wat vandag op die aarde lewe willens en wetens gesondig. Die Bybel sê: "Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie ..." Rom. 3:10 (NAV)

  • Jy sal berou hê oor jou sonde en alles wat God mishaag "... maar nou roep Hy (God) al die mense oral op om hulle te bekeer, want hy het 'n dag bepaal waarop Hy regverdig die wêreld gaan oordeel deur 'n Man wat Hy uitgekies het. "Hand. 17:30-31 (NAV) (verduideliking bygevoeg)

  • Jy sal bereid wees om ander mense te vergewe. "As julle ander mense hul oortredings vergewe, sal julle Vader julle ook vergewe. Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader ook nie julle oortredings vergewe nie." Mat. 6:15 (NAV)

  • Jy sal die Evangelie van Christus aanneem. "Ek herinner julle, broeders, aan die Evangelie wat ek aan julle verkondig het en wat julle ontvang het en waarin julle ook gevestig staan. Deur dié evangelie word julle ook gered as julle vashou aan die boodskap soos ek dit aan julle verkondig het." 1 Kor. 15: 1-2 (NAV)

  • Jy sal gehoorsaam aan die woord van God wees. Jesus sê: "Nie elkeen wat vir My sê: 'Here, Here,' sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is." Matt 7:22 (NAV)

  • Jy sal jou onderwerp aan die onderrig en leiding van die Heilige Gees: "Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei is kinders van God." Rom. 8:14 (NAV)

  • Jy sal volhard in navolging van Christus. "As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg." Matt 16:24 (NAV). (Jesus Christus het baie, baie bewonderaars maar min volgelinge!)

  • Jy sal die 'Vrug van die Gees' dra. Die Christen identiteit (vrug) is; "... liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing." Gal. 05:22 (NAV) Jesus het gesê dat 'n boom word aan sy vrugte geken. "Aan hulle vrugte sal julle hulle ken..." Matt. 7: 16-20 (NAV)

Jy kan dus jou Christen status bepaal deur te let of die 'vitale tekens' vir wedergeboorte deel van jou lewens inventaris is. Ja, jy kan weet en dit is gebiedend noodsaaklik dat jy wel weet!

(Let asb. daarop dat nie een van bovermelde tekens goeie werke of meriete is nie. Net soos wat die fisiese vitale tekens 'n geskenk van lewe is, net so is die vitale tekens van wedergeboorte 'n geskenk van die 'nuwe lewe in Christus'.)


Page Corner Right Lower
Page Corner Right Lower