Johannes 3:3-18 (NAV) 1 Daar was 'n man met die naam Nikodemus.
Hy het aan die party van die Fariseërs behoort en was 'n lid van die Joodse Raad.
2 Een nag het hy na Jesus toe gekom en vir Hom gesê: “Rabbi, ons weet dat u 'n
leermeester is wat van God af gekom het, want niemand kan hierdie wondertekens
doen wat u doen, as God nie by hom is nie.” 3 Daarop sê Jesus vir hom: “Dít
verseker Ek jou: As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk
van God nie sien nie.” 4 Nikodemus vra Hom toe: “Hoe kan 'n mens gebore word
as hy al 'n ou man is? Hy kan tog nie 'n tweede keer in sy moeder se skoot
kom en gebore word nie?” 5 Jesus het geantwoord: “Dit verseker Ek jou: As iemand
nie uit water en Gees gebore word nie, kan hy nie in die koninkryk van God
kom nie. 6 Wat uit die mens gebore is, is mens; en wat uit die Gees gebore is,
is gees. 7 Moenie verbaas wees dat Ek vir jou gesê het: Julle moet opnuut
gebore word nie. 8 Die wind waai waar hy wil. Jy hoor sy geluid, maar jy weet
nie waar hy vandaan kom en waar hy heen gaan nie. So gebeur dit met elkeen
wat uit die Gees gebore is.” 9 Nikodemus vra Hom toe: “Maar hoe is dit moontlik?”
10 En Jesus antwoord hom: “Jy is die bekende leermeester van Israel en jy
verstaan dit nie? 11 Dit verseker Ek jou: Ons praat oor wat ons weet, en ons
getuig oor wat ons gesien het, en tog aanvaar julle nie ons getuienis nie.
12 Ek het julle van die aardse dinge vertel en julle glo dit nie, hoe sal
julle glo as Ek vir julle van die hemelse vertel? 13 Niemand op die aarde
was al in die hemel nie behalwe Hy wat uit die hemel gekom het, naamlik
die Seun van die mens. 14 Moses het die slang in die woestyn hoog op 'n paal
gesit; so moet die Seun van die mens verhoog word, 15 sodat elkeen wat in Hom
glo, die ewige lewe kan hê. 16 “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy
enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan
nie maar die ewige lewe sal hê. 17 God het nie sy Seun na die wêreld toe
gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom
gered kan word. 18 Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie,
is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie.
|